Genade
- Chanelle Oosthuizen
- Jun 1, 2023
- 2 min read
Ek het laas week weer gaan kospakkies uitdeel, n groot deel van hoe Hoopdraers (nie-winsgewende maatskappy) geleentheid maak om die Woord te bring en verhouding te bou met behoeftige gesinne in verskeie areas in Pretoria.
Omdat ek dit redelik lank terug gedoen het, is ek weereens opnuut getref met die hopeloosheid en afvalligheid van baie se omstandighede. Hulle stories ruk mens en laat mens waardeer om te kan teruggaan na n huis waar daar veiligheid en cappuccino sakkies is. Die hartrukkende kontras tussen hul omgewing en lewens en myne, net n paar kilometer weg, het my tot doodse stilstand gedwing. Stil om te kan dink en inneem ten volle die impak van hierdie beseffenis, wat my keer op keer strak in die gesig konfronteer. n Konfrontasie wat talle ongemaklik laat en n konflik in gemoedere skep wat eerder ten alle koste vermy wil word deur die karwag n ou ietsie te gee en nou en dan met die bedelaar probeer onopregte geselsies aanknoop. Want wat help dit eintlik? Hy gaan steeds teruggaan na sy shack of slaapplek onder die brug. So wat kan mens doen.
Ek glo die eerste stap is bewustheid. En nie die cliché bewus wees van hoe bevoorreg ons is nie, alhoewel dit ook waar is. Nee, die bewustheid van die absolute waarheid van onverdiende genade. As mens verstaan wat Hy kom doen het vir ons aan die kruis, sal hierdie strewe na besittings en sukses en geld en waarde nie meer die maatstaf van genade en geluk wees nie. Maar dit, in opsig self sou ons, in ons warm huise met verwarmers, dik kouse, slippers en Woolworths hot chocolate ook nes hulle laat uitroep in woede na ons Vader wat ons so gemaklik maar verwyderd aanbid in ons fancy kerke. In woede en pyn oor die onreg van hierdie verreweg, onverstaanbare konsep van genade. Het die een meer as die ander en hoe besluit die Alwetende, Soewereine God vir wie om meer te gee?
Genade is onverdiend en Hy meet nie genade soos ons doen nie. Met ander woorde, ons sien genade as die besit van aardse besittings en die sukses hier en daarom meet ons ons geluk aan waar en hoe ons hier op aarde verkeer. Maar Hy is n God van die Koninkryk wat kom, maar tog ook so teenwoordig met ons hier. Ek dink ook baie keer dat hierdie Hoopdraers gesinne soveel nader is aan Hom as ons. Hulle word elke dag gekonfronteer met hul totale afhanklikheid aan Hom en die nood van verhouding met Hom. Of hulle dit benut of nie, is n ander kwessie.
Om die Ewige Hoop te kan ken en verhouding te kan hê met die Almagtige Vader is alles. Daar is niks anders meer belangrik of meer nodig nie. En dit is universeel, op almal van toepassing. Vanaf die opperklas na vêr onder die broodlyn. En Sy genade gee hy vrylik en in dieselfde hoeveelheid aan al Sy kinders. Al verskil is in die manier hoe ons naby aan Hom gehou word.
Comments